2012-02-21

Wiskunde Woordeskat

As jy eers hierdie woordeskat onder die knie het, gaan jy sommer baie beter die somme verstaan. Dit is so dat "woordsomme" gewoonlik as moeilik beskou word.

Dis nie dat die somme moeilik is nie, dis net dat jy gewoonlik nie verstaan wat gevra word nie.

1. Bewerkingstekens:  + (plus);   - (minus);   × (maal);   ÷ (deel)

27 + 19 = ____

212 - 88 = ____

63 × 9 = ____

1 008 ÷ 18 = ____

2. Verwantskapstekens:  gelyk aan  = ;    groter as  > ;    kleiner as  <

15   >   1,5  (15 is groter as 1,5)

3,3 km   =   3 300m  (3,3km is gelyk aan 3 300 m)

50 g   *   0,5 kg  (50 g is kleiner as 0,5 kg)

3. Terminologie: Dis belangrik dat jy die volgende baie goed ken.
  • som van / vermeerder / totaal:    + (plus)
    • Die som van 23 en 47 is?
    • Vermeerder 32 met 87.
    • Wat is die totaal van 56 en 76?
  • verskil / verminder:    - (minus)
    • Wat is die verskil tussen 24 en 69?
    • Verminder 244 met 46.
  • produk van / vermenigvuldig:    × (maal)
    • Wat is die produk van 17 en 22?
    • Vermenigvuldig 11 en 334.
  • deler / deeltal / kwosiënt:    ÷ (deel) 
    • 12 (deeltal) ÷ 3 (deler) = 4 (kwosiënt)
    • 15 (deeltal) ÷ 4 (deler) = 3 res 3 (kwosiënt)  
  • veelvoude: Getalle waarin die gevraagde getal presies kan indeel
    • V3 (veelvoude van 3): 3; 6; 9; 12; 15; 18; ....
    • V12 (veelvoude van 12):  12; 24; 36; 48; 60; 72; ....
  • faktore:  'n Heelgetal wat presies in 'n spesifieke getal indeel (sonder 'n res)
    • F8 (faktore van 8):  1; 2; 4; 8
    • F15 (faktore van 15): 1; 3; 5; 15

4. Magte: 'n Mag dui die hoeveelheid keer aan wat 'n getal met homself moet vermenigvuldig word.
  • 2² (2 tot die mag 2) beteken: 2 × 2
  • 7³ (7 tot die mag 3) beteken: 7 × 7 × 7
5. Getalle: 'n Ander woord vir syfers / nommers.
  • Natuurlike getalle (N):  1; 2; 3; 4; 5; 6; ....
  • Telgetalle (N0): 0; 1; 2; 3; 4; 5; ....
  • Heelgetalle (Z): -3; -2; -1; 0; 1; 2; 3; ....
  • Ewe getalle: 2; 4; 6; 8; 10; ....
  • Onewe getalle: 1; 3; 5; 7; 9; ....
  • Priemgetalle (alle natuurlike getalle wat slegs deelbaar deur 1 en die getal self is): 2; 3; 5; 7; 11; 13; 17; ....
  • Saamgestelde of Deelbare getalle (het meer as 2 faktore): 4; 6; 8; 9; 10; ....
  • Vierkant getalle (Die faktore is dieselfde getal met homself vermenigvuldig): 1 (1x1); 4 (2x2); 9 (3x3); 16 (4x4); ...
6. Die volgorde van bewerkings: Hierdie reël bepaal die volgorde waarin bewerkings gedoen moet word wanneer daar verskillende bewerkingstekens in een som voorkom. (BAIE BELANGRIK). Die volgorde waarin ek ek hulle hier onder neerskryf is dieselfde volgorde wat gebruik moet word om 'n probleem op te los (som te doen).

  • Hakies
  • Van
  • × en  ÷ (van links na regs: hierdie tekens is ewe belangrik en jy doen eers die een wat eerste staan)
  • + en - (van links na regs: hierdie tekens is ewe belangrik en jy doen eers die een wat eerste staan)
Voorbeeld 1:

Die som 30 ÷ 5 x 6, word as volg gedoen:

1. deel staan voor maal, daarom 30 ÷ 5 = 6
2. 6 maal 6 = 36
3. Die antwoord is dus 36!

Voorbeeld 2:

Die som 42 ÷ 6 - 2 x 3, word as volg gedoen:

1. deel staan voor maal, daarom 42 ÷ 6 = 7
2. 2 maal 3 = 6
3. 7 - 6 = 1
4. Die antwoord is dus 1! 
 
Voorbeeld 3:

Die som (12 + 4) ÷ 2 + (10 – 4) ÷ 2, word as volg gedoen:

1. eers hakies 12  + 4 = 16 en 10 - 4 = 6
2. dan deel, daarom 16 gedeel 2 = 8 en 6 gedeel 2 = 3
3. laaste die plus, daarom 8 + 3 = 11

4. Die antwoord is dus 11!

Voorbeeld 4:

Die helfte van 18 x 4 + 14 ÷ 2 = ?

1. eers die van: helfte van 18 = 9
2. Dan die maal en deel, daarom 9 x 4 = 36 en 14 ÷ 2 = 7
3. laaste die optel, 36 + 7 = 43.
4. Die antwoord is dus: 43

No comments:

Post a Comment