2012-02-21

Wiskunde Graad 7 en Graad 8: Inleiding

Wiskunde is 'n vak waarvan daar 'n wanpersepsie bestaan.
Dit is NIE 'n vak wat jy of verstaan of nie verstaan nie.

Dis 'n vak waar daar gestudeer moet word. Die kennis wat dan aangeleer is, moet toegepas kan word.
Dit bly 'n proses van kennis inwin en kennis toepas. Dis met die toepassing, waarmee daar baie gesukkel word.

Die enigste manier waarop vaslegging werklik kan plaasvind is deur oefening en nogmaals oefening.

Dis mos egter makliker om te sê dat jy as ouer ook maar met Wiskunde gesukkel het, daarom sal jou kind seker ook sukkel.

Dis nie nodig nie. Inteendeel, jy mag dit nie toelaat nie. Gee jou kind die voorsprong deur hom addisionele oefening te gee. Hetsy deur van hierdie blog gebruik te maak, of deur hom / haar te stuur vir ekstra klasse.

Graad 7 is 'n uiters belangrike jaar, want dit is die jaar waar baie begrippe behandel word waar die basis sal wees vir hoërskool Wiskunde.
Graad 8 is net so belangrik aangesien dit die begin van die Hoërskool is. Tussen beide hierdie grade is daar heelwat oorvleueling.

Ek gaan op 'n gereelde basis leerstof uit beide die Graad 7 en Graad 8 kurrikulum behandel en bespreek asook ekstra oefeninge beskikbaar stel.

Die volgende afdelings gaan aandag kry:
  • Wiskundige woordeskat
  • Getallepatrone
  • Negatiewe getalle
  • Vergelykings en veranderklikes
  • Gewone breuke
  • Desimale breuke
  • Persentasies
  • Vorm en Ruimte
  • Omtrek, oppervlakte en volume
  • Datahantering  
 Daar's hy. Nou is ek klaar gepraat met die ouers.

Ek vertrou dit gaan 'n lekker Wiskunde jaar wees waar jy almal gaan verras met jou punte, maar belangriker nog, waar jy gaan agterkom dat Wiskunde eintlik 'n baie lekker vak is!




No comments:

Post a Comment